Die draers van klank

GRAFIKA: Marise Schoonraad
Musiek het die vermoë om mense van oor verskillende demografiese grense heen byeen te bring. SMF gesels met lede van verskillende orkeste oor die mag van musiek om mense saam te snoer.

So ’n paar jaar gelede het Alison Budge in die gehoor by haar kinders se skoolkonsert gesit.
“As ek deur hulle s’n moet sit, moet hulle maar deur myne ook sit,” het sy gedink. Toe haar kinders ’n paar jaar later universiteit toe is, het sy daad by die woord gevoeg en teruggekeer na een van haar stokperdjies: Musiek.
Budge is ’n skrywer en professionele redigeerder, maar vir die laaste tien jaar, speel sy ook die tjello in die Stellenbosch City Orchestra. Sy het op skool dié instrument bespeel en het op 44 besluit: Dit is weer tyd. Nou speel sy reeds vir tien jaar in die Stellenbosch City Orchestra, sê sy.
“Musiek is iets wat in jou siel is,” sê Budge.
Sy is nie die enigste persoon wat so voel nie. Daar is sowat 50 lede in die Stellenbosch City Orchestra – mense met veelsoortige agtergronde wat bedags ook verskillende beroepe beoefen.
Ten spyte van hul uiteenlopende agtergronde, skep hulle sáám musiek. In gemeenskappe, skoolsale en wynkelders kan hulle enigiets van Elvis se treffers, tot Tchaikovsky speel.
“Ek dink as ’n mens geseënd is om die gawe van musiek te […] ontvang, dan moet jy dit met ander deel. Jy moet daai seëning […] vir ander mense ook versprei,” sê Izelle Theunissen, ’n lid van dié orkes.


Die Stellenbosch City Orchesta in die Lourensford wynkelder. FOTO’S: Marise Schoonraad

’n Nuwe speelplek vir musikante
In 2012 het Paul van Zuilenburg sy eerste orkes in Bloemfontein begin – die Bloemfontein City Orchestra. Die konsep vir die orkes was om ’n kern van professionele musikante te hê en dan amateurs wat rondom hulle speel, sê Van Zuilenburg.
“[Die amateurs is] mense wat ordentlik kan speel, maar wat dit nie vir ’n lewe doen nie,” sê hy.
In 2015 het die idee ontstaan om nóg ’n orkes op ’n ander plek te begin. Hy het op Stellenbosch grootgeword en besluit om die volgende orkes in sy tuisdorp te stig, sê Van Zuilenburg.
“Ek was 30 jaar weg en dit het gevoel asof ek nooit weg was nie,” sê hy. “Dit was nogal lekker.”
In 2015 is die Stellenbosch City Orchestra gestig. Meeste van die spelers kom van die Kaap, Stellenbosch of Somerset-Wes, volgens hom.
Van Zuilenberg vlieg ’n week voor ’n konsert Kaap toe. Die orkes oefen dan vir drie dae saam en het ongeveer sewe en ’n half ure in totaal om ’n program van twee ure aan mekaar te las, sê hy. Die lede oefen egter voor die tyd op hul eie.
Daar is mense wat nog nooit ’n simfonie-orkes gehoor het nie, sê Van Zuilenburg.
Hy sê wat hul projekte en orkes uniek maak, is dat hulle van tradisionele orkesmusiek afwyk. Die tipe musiek wat hulle speel, is meer toeganklik vir ’n gehoor, sê hy. Die orkes het al van Elvis, tot ABBA en Disney-treffers gespeel, sê Van Zuilenburg.
Theunissen redigeer boeke en help met manuskrip-ontwikkeling vir ’n lewe. Sy het egter tien jaar gelede besluit om tjello-lesse te neem, en vandag speel sy al nege jaar lank in die orkes, sê sy.
Die ervaring was só lekker dat sy ’n plaaslike dirigent opgesoek het saam met wie sy weekliks kon oefen. Dít het uiteindelik gelei tot die stigting van die Winelands Philharmonic Orchestra in 2022, verduidelik Theunissen.



GRAFIKA: Marise Schoonraad

Donderdagaande in die skoolsaal
In die Winelands Philharmonic Orchestra speel daar ook amateur-musikante, volgens Theunissen. Hulle kom weekliks in Hoërskool Stellenbosch se skoolsaal bymekaar. Mense van alle agtergronde en ouderdomme speel in dié orkes, sê sy.
Al die orkeslede het musiek iewers in hulle lewens geneem, maar beoefen dit nie professioneel nie, volgens haar. Hierdie orkes gee vir die musikante meer geleenthede om te speel, sê Theunissen.
Cornelia Casal is ’n geregistreerde dieetkundige, maar speel ook viool in die Winelands Philharmonic Orchestra. Sy sê sy het by die orkes aangesluit toe sy besef het hoe belangrik dit is om deel te wees van ’n gemeenskap van mense wat soos sy oor musiek voel. Dit is mense wat jou liefde vir musiek deel, verduidelik sy.
“Almal van ons is verskillend, maar wanneer ons almal op die verhoog bymekaar kom om musiek te maak, is dit asof al daai verskille weggaan,” sê Casal.

“Almal van ons is verskillend, maar wanneer ons almal op die verhoog bymekaar kom om musiek te maak, is dit asof al daai verskille weggaan.”
FOTO: Marise Schoonraad

Thank you for the music
Wikus Swart, ’n tandarts van beroep, het in graad tien die fagot begin speel, sê hy. Swart speel nou ook in die Winelands Philharmonic Orchestra.
“Ek het ’n verskriklike groot crush gehad op die meisie wat langs my gesit het in wiskunde,” sê hy. Sy het die fagot gespeel; dit was tóé dat Swart ook die instrument wou baasraak.
Hy het “op die ou end van die dag, toe nou verlief geword op die instrument, instede van haar”, grap hy.
Swart vertel hy was ’n ruk gelede baie siek en kon eers ná hy uit die hospitaal ontslaan is en sy rehabilitasie afgehandel het, weer in die orkes begin speel.
Musiek het hom egter iets gegee om voor te leef, sê hy.
“Dit is iets wat ek kon doen ten spyte van my verlamming,” sê Swart.
Die sielkundige uitlaatklep wat dit jou gee om een keer per week musiek te maak, is voordelig, “nie net vir myself nie, maar [ook] vir die mense om my”, sê Swart.
“Musiek is universieël,” sê hy. Daar is iets in ons heelal wat, as dit vir ’n mens mooi klink, jou eenvoudig gelukkig kan maak, sê hy.
Daar mag 50 mense uit verskillende lewenswandelings bymekaar wees, en ’n hartseer lied kan dieselfde emosie by hulle almal uitlok, sê hy. Daarom, verduidelik Swart, is musiek ’n universele vorm van kommunikasie.
Musiek bring vermaak, kuns en kultuur na verskillende gemeenskappe, sê Swart.

“Hulle is dus ‘verenigende ruimtes’, wat samewerking oor grense heen bevorder en geleenthede bied vir die ontwikkeling van vriendskappe.”
FOTO: Marise Schoonraad

Nie net ’n mooi wysie nie
Doktor Olga Kolokytha, verbonde aan die Universiteit vir Voorgesette Onderwys Krems in Wene skryf dat orkeste nie net belangrik is om musiektradisies lewend te hou en ontwikkel nie. Orkeste inspireer ook jong musikante, voed gemeenskappe op en bied ruimtes vir kreatiwiteit, inklusiwiteit en artistieke ervarings.
Daar is baie navorsing gedoen oor die voordele van gemeenskapsorkeste, sê Pamela Kierman ’n dosent verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US) se musiekdepartement en kenner in orkespraktyk-modules.
“Nie-professionele orkeste is ook belangrik, aangesien hulle toegang tot opvoerings aan almal bied,” sê sy.
Die rol van ’n orkes strek verder as dié van eenvoudige vermaak, volgens Kolokytha.
“[Orkeste] kan dien as kommunikatiewe ruimtes wat ’n gevoel van verbintenis, insluiting, hoop en eenheid bied,” skryf sy.
Volgens Kierman bied nie-professionele orkeste dikwels meer vertonings aan in kleiner dorpe, waar professionele optredes skaars is. Dit maak hulle konserte sodoende meer toeganklik. Só kan orkesmusiek ’n groter deel van die samelewing bereik, sê sy.
In Suid-Afrika is daar steeds baie sosiale en ekonomiese ongelykhede. In die apartheidsjare was toegang tot musiek beperk vir alle Suid-Afrikaners en dit word selfs nou deur die ekonomie beïnvloed, sê Kierman.
Net “diegene wat dit kan bekostig om na konsertsale van hul gemeenskappe te ry en vir die kaartjies te betaal, kan konserte bywoon”, sê sy. Gemeenskapsorkeste in kerke en ander gemeenskappe laat musikante van verskillende beroepe en agtergronde toe om saam te oefen en op te tree.
“Hulle is dus ‘verenigende ruimtes’, wat samewerking oor grense heen bevorder en geleenthede bied vir die ontwikkeling van vriendskappe,” sê Kierman. “Hul optredes lok oor die algemeen ’n gevarieerde gehoor – baie wat normaalweg nie optredes van professionele orkeste sou bywoon nie – hoofsaaklik as gevolg van finansiële beperkings.”
Die orkeslede is nie professionele musikante nie, maar kry die geleentheid om vir gehore op te tree in die afsonderlike orkeste. FOTO’S: Marise Schoonraad

Die groter impak
Casal was vir die meerderheid van haar beroep by openbare- en gemeenskapsontwikkeling betrokke, sê sy.
“Dit het altyd vir my gevoel daar is niks wat mense eintlik rêrig bind nie,” sê sy. Maar sy het agtergekom dat, waar mense saam musiek maak, hul agtergronde nie saak maak nie – musiek skep dus ’n gevoel van samehorigheid.
Toe die Winelands Philharmonic Orchestra gestig is, was een van hulle groot doelwitte om musikale uitreike te doen, sê Casal. Hulle het na geleenthede gekyk om klein musikantgroepe die kans te gee om op te tree.
Dié orkes wou graag ’n platform skep vir groepe wat minderbevoorreg is en musikante wat nie ’n platform het om op te speel nie, sê Casal.
Die eerste optrede wat hulle saam met só ’n orkes gedoen het, was saam met die Riebeek Kasteel Steel-orkes, ’n gemeenskap-gebaseerde Steel-orkes.
Dit is spesiaal om saam met kinders op te tree wat nog nooit ’n tjello gesien het nie, sê Theunissen. Die kinders kom voel en kyk na die instrument, en jy kan sien hoeveel genot dit vir hulle bring, sê sy.
Hulle is ook vir die eerste keer betrokke by ’n uitreikprogram in Stanford waar hulle ’n musikale werkswinkel aanbied, sê Casal. Hier werk skoolkinders saam met ander medewerkers en kry die geleentheid om saam met hulle op te tree.
Casal vertel dat ’n uitvoerende hoof van ’n maatskappy en “mense wat in ’n township bly” saam musiek maak.
Almal hou van musiek. Dit tas iets diep binne-in almal, sê Theunissen: “Musiek begin waar taal ophou.”





Deur in die orkeste te speel kry lede ook die geleentheid om ‘n bydrae in verskillende gemeenskappe te lewer. FOTO’S: Marise Schoonraad






