genesing
op die rug van ’n perd
Sommige mense leef met ’n roeping: Om hoop te bring waar daar gebrokenheid is. Een so ’n mens is M’Lani Basson, stigter van Amado. Vir byna ’n kwarteeu reeds bied sy gratis perdeterapie aan persone met geestelike en fisieke gestremdhede en help hulle om weer hul eie krag te ontdek.
M’lani Basson staan aan die voet van Paarlberg. Sy is besig om Rain se kop te vryf. Rain is die eerste perd wat Basson 23 jaar gelede begin gebruik het om mense met fisieke en emosionele gestremdhede te help.
“Hy is vreeslik sweet, maar hy het die vieslikste grondmaniere,” sê Basson. “Ons gebruik vir Rain om met die tieners te werk ー veral diés waarvoor niemand kans sien nie.”
Amado, oftewel, geliefde
Basson verwelkom sedert 2008 deelnemers van alle ouderdomme by haar sentrum. Die Amado-program fokus op die verbetering van fyn-motoriese vaardighede, emosionele ontwikkeling, onafhanklikheid en selfvertroue – alles met behulp van perde, sê Basson.
“Ek het sielkunde en kuns geswot op Stellenbosch, maar ry al perd vandat ek drie jaar oud is. […] En ons het hierdie beautiful plek, so toe dink ek: Kom ons gee [’n] bietjie terug.”
“Ek het sielkunde en kuns geswot op Stellenbosch, maar ry al perd vandat ek drie jaar oud is,” sê Basson. “En ons het hierdie beautiful plek, so toe dink ek: Kom ons gee [’n] bietjie terug.”
Basson verwys na hulle familieplaas, Protea Hoogte, buite Paarl.
“En dis hoe Amado ontstaan het. Dit beteken beloved, geliefde,” vertel sy.


Opsaal vir bemagtiging
Basson vertel van ’n seun wat dikwels in bakleierye betrokke geraak het by die skool, en dat hy “so graag iemand wou bliksem”. Hy het egter geweet hy sal nie mag perdry indien hy dit sou doen nie, en het dus gekies om nie meer te baklei nie.
Daar was ook ’n 16-jarige meisie wat nie gepraat het nie. Sy is as dogtertjie deur haar oupa verkrag, vertel Basson.
“Toe sy die eerste dag kom, toe sê ek vir haar dat die enigste manier wat hierdie perd gaan stop is as jy sê ‘hokaai, stop!’,” sê Basson.
Volgens Basson het die dogtertjie op ’n besoek, nie lank daarna nie, vir die perd gefluister: “Hokaai, stop”.
“En die perd het gestop. En dis die eerste keer in 16 jaar dat iemand luister as sy praat.”
“Dís hoe bemagtigend perdeterapie is op ’n emosionele […] én fisieke vlak,” sê Basson.
Basson glo dat alle kinders gehelp kan word deur middel van perdeterapie, tensy iemand nie hou van diere nie.
Uit die perd se bek
Vir Basson voel dit of sy daagliks haar sielkunde-kennis toepas. Veral omdat Amado op die oomblik baie meer met geestesgesondheid as fisieke gestremdhede te doen kry, volgens Basson.
Sy vertel dat perde veral sensitief is teenoor hierdie tipe behoeftes. “Dis ’n ingebore ding by ’n perd,” sê sy. “Hy kan aanvoel wat jy nodig het.”
Die mens het oor tyd geleer dat hulle diere nodig het, of dit nou was vir ploeg of jag, maar ook in terme van geselskap, sê Anton Böhmer, kliniese sielkundige van Stellenbosch.
“Die emosionele diepte en waarde van daardie bande [tussen mens en dier] is iets wat geweldig baie betekenis gee vir mense,” sê Böhmer. Eerstens, om alleenheid en eensaamheid aan te spreek, tweedens het dit ’n versorgingskomponent, en derdens is dit amper soos ’n eggenoot, sê hy.
Böhmer sê hierdie tipe verhouding is terapeuties voordelig omdat daar endorfiene in die brein vrygestel word. Hy sê ook dat die verhouding tussen mens en dier ’n groot deel van ’n mens se identiteit word, en dat dit “’n geweldige sterk emosionele rugsteun” is vir mense, omdat daar sóveel kameraadskap uit hierdie verhoudings geput word.
Wanneer ’n mens spesifiek kyk na perdeterapie, glo Böhmer dat daar ’n mate van intuïsie is wat uitspeel; ’n ander manier van kommunikasie, as’t ware.
“Ek dink daar is ’n aanvoeling van diere na ons as mense, en nie nét van ons na diere nie,” sê Böhmer. Hy sê ook dat aanvaarding waarskynlik ’n rol speel in hierdie verhoudingsdinamiek.

Holrug gery
Sowat 40 kinders ontvang tans perdeterapie by Amado. Die organisasie se uitgawes om hierdie dienste te lewer, is R40 000 per maand, sê Basson. Sy sê Amado ontvang elke maand R25 000 van die Departement van Sosiale Ontwikkeling.
“Dit beteken ons het elke maand ’n tekort van R15 000,” sê Basson.
“Mense antwoord nie eers meer die foon as ek hulle bel nie, want hulle weet [ek gaan vir geld vra],” vertel Basson. “Soms dink ek, ek kan dit nie meer doen nie. Dit breek my. Maar dan kom ek hier en sien die kinders […] en ek weet daar is niks anders vir hulle nie.”
Assistent met vrye teuels
“Ek was 40 toe ek by Amado begin werk het as M’lani se assistent,” sê Estelle Josephs. “Ek is nou 58.”
Josephs sê sy kon self nie in daardie stadium perdry nie, maar sy moes leer.
“Ek was skytbang vir perde,” lag sy. “Maar toe dink ek: Die kinders met special needs is nie bang nie, so ek kan ook nie bang wees nie.”
Vir Josephs, is die lekkerste deel van dié werk “as jy daai satisfaction kry”. Sy deel die voorbeeld van een spesifieke jongman wat selfvertroue op die program geleer het. Hy het ’n spraakprobleem gehad, vertel sy. Maar hy, en een van die perde, Amado, het ’n spesiale band gehad. “Hy is vandag ’n cabinet maker.”
“Ek dink nie daar is ’n wetenskaplike wat kan verduidelik hoekom ’n perd en kinders met special needs net kan bond nie,” sê sy. “Dis amper soos honde wat blinde mense lei.”
Josephs begin gereed maak vir die kinders van Fountain of Hope wat binnekort gaan arriveer. Vandag kom 10 kinders tussen die ouderdom van nege en twaalf uit Paarl-Oos.
Hierdie kinders is omring met armoede, bendegeweld, huishoudelike geweld, enkelouerskap en dwelmmisbruik, vertel Josephs.
“Ek sê altyd, ek het my eie twee seuns, en dan my 43 kids by Amado,” sê sy.
Nie perdekoop nie
Charles Harris is al vir die afgelope vyf jaar die projekbestuurder vir Fountain of Hope – ’n nie-winsgewende organisasie in Chicago, Paarl.
“Ek het ’n liefde vir dié program [by Amado]. Ek word nie betaal om die ding te doen nie,” sê Harris. “Ons weet ons kan nie almal omdraai nie, maar as ons ten minste een of twee kan help, maak dit al klaar ’n verskil.”
Een van die dogtertjies staan nader. Dit is vir haar baie lekker om elke week na die perde toe te kom, sê sy. Maar as dit reën, kan hulle nie kom nie.
“Dan voel ek ongesteld,” sê sy saggies.
Perd van ’n ander kleur
Benewens armoede, beleef die Wynlande terselfdertyd ook verbysterende welvaart, skryf Ashley Müller, ’n mediapraktisyn wat spesialiseer in eiendomsverslaggewing. Luukse wonings op polo- en gholflandgoedere floreer, sê sy.
Maureen Nel is ’n eiendomsagent wat grootgeword het in Grabouw. Sy spesialiseer tans in eiendomme binne die Val de Vie-landgoed. Haar besigheid bestaan al die afgelope 17 jaar en is geaffilieer met Harcourts International. Sy vertel dat sy al meer as vyf keer die top Harcourts agent in Afrika was.
Nel skryf ’n groot gedeelte van haar sukses toe aan haar verhouding met perde.
“Diere, veral perde, is so sensitief,” sê sy.
Haar reis met perde het begin toe sy 40 geword het, vertel Nel. Sy het ’n perd gekoop op ’n veiling in Pretoria, waar sy toe gebly het. Sy kon in daardie stadium nie perdry nie, maar sy het geweet dat dit iets is wat sy wil doen.
“Maar na ’n attempted highjack […] het ek dadelik besluit ek trek terug Kaap toe,” vertel Nel.
Sy het Kaap toe getrek sonder ’n plan en het in eiendom ingegaan as die volgende stap, sê sy.
Sy beskryf Val de Vie in daardie tyd as “’n plek met tien huise, baie sand en baie stof”.
“Dis ongelooflik hoe dit uitgebrei het,” sê sy.
“Die perde hou my grounded, gesond,” sê Nel. “Dis baie goed vir my geestesgesondheid en dit maak [’n mens] sensitief om te luister na ’n persoon se behoeftes wanneer hulle byvoorbeeld na ’n huis kom soek.”
“So die twee gaan absoluut hand aan hand,” sê sy.
Vandag woon Nel self op Val de Vie en hou “’n hele klompie” perde aan op ’n hoewe net buite dié landgoed. Dit is hoofsaaklik vir uithouritte, maar ook omdat sy bloot ’n liefde het vir hierdie diere, sê sy.
Die wind van agter
Nel speel graag musiek vir haar perde, veral vir Sheila, sê sy. Sy het ’n spesiale jas wat sy vir haar perde aantrek, ’n bemer, en sit dit op die rug van ’n perd na ’n uithourit.
“Dit balanseer die liggaam en dis goed vir hulle gewrigte en bloedsomloop,” sê sy.
Dan ontvang haar perde ook een keer per maand fisioterapie om seker te maak hulle is gesond, vertel Nel.
Al manier hoe sy kan lewe, is met oorgawe of glad nie, sê Nel. “Met die grooms is dit dieselfde. […] As ek sien hoe lief […] hulle vir die diere [is], dan is dit baie lekker om terug te gee aan die gemeenskap, deur vir hulle ’n beter lewe te gee.”
Siphiwe Khumalo werk vir die afgelope vier jaar as een van Nel se stalknegte.
Volgens Khumalo het Nel hom geleer hoe om ander perdehanteerders op te lei.
“Die eerste keer wanneer jy sien iemand werk met ’n perd, kan jy sien of hy ’n liefde vir perde het. As dit nie sy ding is nie, kan jy nie dit vir hom leer nie,” sê Khumalo.
Khumalo sê dat hy “vir altyd” as perdehanteerder vir Nel wil werk. Hy sê dat Nel hulle geleer het hoe om toegewyd te wees teenoor hul werk en hoe om na hulle perde om te sien.
“Sy leer ons gedurig nuwe dinge. Ons is baie lief vir haar,” sê Khumalo.
Nel sê dat sy haar perdehanteerders leer om trots te wees op dit wat hulle doen. “Want, nie almal kan werk met perde nie. Jy moet selfvertroue hê, maar jy moet ook sag wees. En nie almal het daardie gawe nie,” sê sy.