‘Die beste skrywers is nog op pad’

Queer-skryfwerk het diep wortels in die Afrikaanse letterkunde. Maar hoe pak kontemporêre queer Afrikaanse skrywers die moderne literêre landskap aan? SMF gesels met kenners oor hoe ’n nuwe generasie queer Afrikaanse skrywers hul eie platforms bou en vir hulself spasie skep.

“Ek het ’n leemte gesien en toe wou ek dit opneem.”

Waar de fok dink jy kry mens Jeanne Goosen in Springbok se biblioteek? Of Hennie Aucamp?” sê Dianne du Toit Albertze, ’n skrywer met jare se ervaring in die teaterbedryf, wat in Springbok in die Noord-Kaap groot geword het.

Du Toit Albertze verken gereeld transgender-identiteit, werkersklasregte en haar Namakwaland-herkoms in haar werk.

“Ek kon nooit regtig, vandat ek kon onthou, gedigte of monoloë of prosastukke vind wat tot my experience praat, of tot my binnewêreld nie,” sê sy. “Ek het ’n leemte gesien en toe wou ek dit opneem.”

Haar debuutroman, bottelnek breek bek, is in 2022 deur Human & Rousseau uitgewers gepubliseer. Dié roman is geïnspireer deur ’n drama wat Du Toit Albertze geskryf het oor ’n transgender vrou wat terugkeer na haar tuisdorp in Namakwaland, sê sy. bottelnek breek bek is egter ’n oorspronklike verhaal.

“Toe ek as kind gevoel het ek sien nie myself verteenwoordig nie, het ek besluit ek gaan ’n platform oopmaak sodat girls of guys kan sê: ‘Ek is actually ook in die boek’,” sê sy.

Die eerste Afrikaanse teks waarvan kenners bewus is, wat moontlik onder die oorkoepelende term “queer” kan val, is aan die einde van die 19de eeu in Ons Klyntji gepubliseer. Dit is volgens professor Andries Visagie, wie literêre studies aan die Universiteit Stellenbosch se departement Afrikaans en Nederlands aanbied.

Ons Klyntji is in 1896 as die eerste Afrikaanse tydskrif gestig, maar het in 1905 ophou publiseer. Dit het in 2014 verskyn as die Klyntji-webjoernaal, ’n nie-winsgewende organisasie wat progressiewe kuns en media ten toon stel, volgens hul webtuiste.

“Die verhouding [in die teks] is eintlik voorgestel as ’n vriendskap, maar dit is baie duidelik ’n taamlik uitgesproke gay verhouding wat uitgebeeld word,” sê Visagie.

Die 1960s het egter ’n keerpunt gesien namate die openhartigheid waarmee skrywers, soos Hennie Aucamp, queer-skryfwerk aangepak het. Teen die 1980s en 1990s het skrywers soos Koos Prinsloo en Joan Hambidge breedvoerige gesprekke rondom queer-identiteit en die marginale posisie van die queer-persoon in die samelewing binne hul nis, na vore gebring, sê Visagie.

“Elke storie wat ek vertel is aktivisme, bloot omdat dit uit my kom en omdat ek die waarhede spreek wat ek kies om te deel.”

Du Toit Albertze glo dat dit in die kontemporêre era belangrik is om spasies te skep waar nuwe queer-skryfwerk kan floreer, en dat kennis oor bestaande platforms en hulpbronne gedeel moet word.

Enige iemand kan, byvoorbeeld, ’n stuk vir Klyntji skryf, maar nie almal weet dat dit ’n opsie is nie, sê sy.

“Ek dink dokumentasie van ons kuns en van ons lewens is ontsettend belangrik, want ons kan nie loop staan skree oor ’n history wat daar nie is as ons nie gaan aandeel hê daaraan nie,” sê sy.

Buite die publikasie-wêreld is Du Toit Albertze betrokke by ’n kreatiewe groepprojek, Trans Conversations, wat dokumentêre oor trans-lewenservarings neem en dit met digkuns vermeng tydens maandlikse werkswinkels met ander trans skrywers.

“Ons kyk om soveel moontlik veeltaligheid in te weef,” sê sy. “Ons werk saam om Afrikaans, Engels en Xhosa te interlink met mekaar.”

“Ek is genooi na ’n Trans Conversations-byeenkoms om my poësie te deel,” sê Amy Brown Hendrickse, ’n multisensoriese storieverteller. “Die ruimte was daarop gefokus om plek te hou vir trans-stories, om ’n wêreld te herverbeel wat trans-vreugde en gemeenskap sentreer.”

“Om ruimte te maak vir die stories van queer-trans liggame en gemarginaliseerde mense in die samelewing, is noodsaaklik,” sê hulle.

Hulle meen dat dit bydra tot die skepping van ’n wêreld buite wit oppergesag, kapitalisme en patriargie.

Brown Hendrickse het op die Kaapse Vlakte grootgeword en verken, onder meer, stories wat oor generasies strek en die kombuis as ’n plek van leer in hul werk. Hulle beskou egter al hul werk as queer-werk.

“Elke storie wat ek vertel is aktivisme, bloot omdat dit uit my kom en omdat ek die waarhede spreek wat ek kies om te deel,” sê hulle.

Turksvy-nuusbrief het in 2022 begin met ’n vraag oor hoe “intersectional feminisme” vandag in Afrikaans kan lyk, volgens Azille Coetzee.

Coetzee en Bibi Burger is mede-stigters en -redakteurs van dié nuusbrief.

Die idee was om die uiteenlopende feministiese, queer gesprekke wat wél in Afrikaans plaasvind, ’n platform te gee. Turksvy het in die vorm van ’n twee-weeklikse nuusbrief op die aanlyn publikasieplatform, Substack, verskyn.

“Daar is interessante gesprekke in Afrikaans, maar dít het ons nie so gereeld in die media gesien nie,” sê Burger. “Ons wil nou nie sê ons het iets heeltemal nuut gedoen nie, maar dit was net nie so gereeld wat hierdie gesprekke oor ras, oor seksualiteit, oor ons ervarings, ons lewens… Ons het dit nie eintlik gesien nie.”

“Dit gaan daaroor om jouself in ander mense te kan sien, om ander mense in jouself te kan sien,” sê Coetzee.

Turksvy was befonds deur die L.W. Hiemstra Trust, asook die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Afrikaanse Taalraad. Toegang tot befondsing het Coetzee en Burger in staat gestel om dié briewe sonder toegangsfooi te publiseer en die skrywers vir hul werk te betaal.

“Dis ook ’n leemte wat ons gesien het,” sê Burger. “Daar is nie platforms nie, en as daar is, betaal hulle nie die skrywers nie.” 

Na sowat ’n jaar het al die Turksvy-briewe saam in ’n aanlyn-zine verskyn, wat op die Klyntji-webtuiste gehuisves is. Die projek se geld was op, maar Coetzee en Burger wou hê dat al die uitgawes steeds op ’n sentrale plek beskikbaar moes wees.

“Hoe ons nou aan Turksvy dink, is as ’n naam waaronder ons nog baie projekte in die toekoms gaan aanpak,” sê Coetzee.

“Daar is interessante gesprekke in Afrikaans, maar dít het ons nie so gereeld in die media gesien nie.”

“Ek voel nie ek moet altyd queer skryf nie, maar ek voel nie ek het tyd vir iets anders nie.”

“Dis my projek om juis as redakteur en skrywer aspris in Afrikaans oor queerheid te skryf,” sê Tiaan Booyens, ’n skrywer en redakteur by die queer-spekulatiewe-fiksie-afdeling van Mirari Press, ’n onafhanklike uitgewer. “Want alhoewel daar invloedryke voorbeelde [van queer skrywers] is, is dit in die minderheid.”

Booyens dra gereeld by tot Knaap, nóg ’n onlangse weeklikse queer-nuusbrief wat in 2023 begin het om op Substack te publiseer.  Knaap bestaan uit vrywillige inskrywings wat onder redaksie van Wemar Strydom saamgestel word, volgens Booyens.

Dié brief is direk deur Turksvy geïnspireer, sê hy.

“Ek voel nie ek moet altyd queer skryf nie, maar ek voel nie ek het tyd vir iets anders nie,” sê Booyens. “Ek wíl queer skryf. Ek wil hê dat die stories daar buite moet wees en dat mense dit raak sien.”

Knaap word deur donasies en inskrywingsgelde befonds. Briewe is verniet beskikbaar op die dag van publikasie, maar daarna moet lesers R100 per maand betaal vir toegang tot vorige Knaap-uitgawes, volgens Booyens. 

“Dit is byna onmoontlik om te weet waar om te begin om befondsing te kry as dit nie crowdfunding of persoonlike sponsorship is nie,” sê Booyens.

Booyens se bydrae tot Knaap is ’n herhalende rubriek, “Knaapstad”, wat handel oor sy “eie ervarings met dating culture”.

Queer karakters in media neig dikwels óf na tragedie, óf na vereenvoudigde, flambojante uitbeeldings van queer-identiteit, volgens Booyens.

“Daar is nie hierdie middelweg van deernis en verstaan, of werklik menswaardige queer-verhale nie,” sê hy. “En hoe meer mense skryf, hoe nader kom ons daaraan.”

“Binne daardie ruimte word skryf as ’n bruin, queer stem tegelyk persoonlik en polities.”

“Ek het baie geweet oor gay manlike skrywers soos Johan de Lange en Koos Prinsloo,” sê Burger oor die gebrek aan gay vrouestemme. “Daar is Welma Odendaal, daar is Jeanne Goosen, maar dit word nie beskou as ’n beweging of as iets wat so radikaal was of so ’n invloed gehad het soos met die manlike skrywers nie.”

“Goed wat daardie tyd uitdagend was, kan nou selfs konserwatief wees,” sê sy. “Dit was maar baie wit. Dit was maar baie cis.”

Wit skrywers binne die Afrikaanse literêre kanon trek al lank voordeel uit geleenthede wat nie aan bruin skrywers gegun word nie, sê Brown Hendrickse.

“Binne daardie ruimte word skryf as ’n bruin, queer stem tegelyk persoonlik en polities,” sê hulle. “Ek streef voortdurend na die waardigheid van queer-narratief, net soos bruin Afrikaanse skrywers steeds veg om sigbaarheid binne ’n domein wat nog altyd deur wit stories oorheers word.”

“Jongmense is eintlik nou besig om vernuwing te bring in daardie sin,” sê Visagie.

Die onlangse herkenning van skrywers soos S.J. Naudé in die hoofstroom dui daarop dat queer onderwerpe al hoe meer in die voorgrond van Afrikaanse literatuur is, sê Visagie.

Naudé het in 2019 en 2022 onderskeidelik die Hertzogprys vir sy roman, Die derde spoel, en kortverhaalbundel, Dol heuning, ontvang. Albei tekste stel komplekse queer karakters ten toon, volgens die LitNet-Skrywersalbum.

“Maar [queer temas] word baie maklik nou net afgekam en eenkant toe geskuif onder die term woke,” sê Visagie. “Die term woke word eintlik gebruik as ’n soort knuppel om vryhede wat oor ’n baie lang tyd en met groot moeite verwerf is – óf dit nou in ’n gender-gebied, óf ’n kleur-gebied is – verdag te maak en as onwenslik gesien te [laat] word.”

“Dis asof die boodskap is: ‘Bly daar in daardie hoekie, daar anderkant. Moenie kom werskaf op die groot terrein waar julle eintlik nie veel het om te sê nie’,” sê Visagie.

Volgens Du Toit Albertze, voel sy nóú juis gemotiveerd om ander queer en transgender mense aan te moedig om te skryf en kreatief te wees.

“Die beste skrywers is nog op pad,” sê sy. “Ek dink dit is ons verantwoordelikheid as queer Afrikaanse skrywers om te help ontdek en te help ontgin.”