Miskien is Mevrou okay
’n Kortverhaal
GRAFIKA: Anke Spies
GRAFIKA: Daniélle Schaafsma
Vroegoggend begin die straatgroep gons. Waar kom die skote vandaan? Wees tog versigtig – onthou: Betogings in Westbury. Oor water.
Foto’s en videos begin sirkuleer. ’n Bepaalde video versprei soos ’n veldbrand: Dit is geneem op ’n selfoon met ongeoefende hande. Daar staan die polisie, daar lê die klippe oor die pad. Daar brand die buitebande. ’n Man beduie met sy wysvinger – hy is in ’n hewige woordewisseling met ’n polisieman gewikkel. Vroue kom nadergestap met hulle hande in die lug.
“Shoot us! Shoot us!” roep ’n vrouestem.
Uit ’n ander oord een helse knal, en dan klap die rubberkoeëls. Almal spat weg.
Die man met die selfoonkamera vergeet om stop te druk. Ons sien die grond beweeg – heen en weer, heen en weer – soos hy draf na veiligheid. Hy spring in ’n motor en klap die deur toe. Die skote hou aan, nou effe meer gedemp. Dan stop dit.
Die video versprei blitsig deur naburige buurte. So ook die betogers. Want hier waar hulle woon, word hulle vergeet. Geen water, soms vir dae aaneen. Hier word hulle nie gehoor nie.
Hulle sleep hul buitebande en oliedromme oor die Grootpad wat hulle van die middelklasbuurte skei. Hulle kry klippe. Êrens. Hulle pak dit oor die pad. ’n Vuurhoutjie word getrek en deur die lug geskiet – dit trek met ’n boog tot in die oliedrom. Oombliklik is die vlamme ’n meter hoog. ’n Vuurvertoning op die hoek van die straat.
Die straatkafee se deure word toegetrek en met ’n ketting gesluit. Vir in geval. Jy weet?
Voertuie word nou op ander roetes rangeer – die paaie parallel aan hierdie buurt se hoofpad werk ewe goed. Die minibus-taxi’s lei die weg. Hulle tou nou in Tweedelaan op. ’n Huishulp kom aangedraf. Haar wysvinger is na bo gepunt om die vraag te vra: Stad toe? Ja, knik die bestuurder, en briek om haar in te laat.
Die WhatsApp-groepe word nou gebruik om inligting uit te ruil: Tobystraat is oop, Gold nog toe. Vermy Thorntonstraat – dit brand by die verkeerslig.
Niemand kla oor die betogings nie. Want almal hier is ewe gatvol. Ook hier is die water soms net ’n straal. En soms niks. Soms is die krag af. Vir dae. Nood-instandhouding. Soms met waarskuwing, soms daarsonder. Soos vandag.
So, die buurt laat die betogers begaan. En die betogers laat die inwoners begaan. Kom maar hier verby met jou karretjie, Mevrou. In vrede beweeg die protes deur die buurt.
Maar… Maar…?
Hoekom klim Mevrou nie uit en help stem dikmaak nie? Hoekom gryp Mevrou nie ’n stuk karton en skryf daarop “Gee ons krag!” of “Waar’s die water?” nie?
Is Mevrou dan nie ook de hel in nie?
Hoekom bring Mevrou nie gebottelde water en ’n sak energiestafies vir die betogers wat die harde werk namens Mevrou aan die doen is nie? In die stad van goud en heuning, is die son versengend, en die teer warm. Dis harde werk om aan te dring op dienslewering, Mevrou. En dit is tot almal se voordeel.
Maar miskien het Mevrou vier Jojo-tenks met ’n pompie wat die huis aan die gang hou wanneer daar probleme by die Brixton-watertoring is. Miskien het Mevrou ’n bordjie teen die heining wat beweer “Boorgatwater hier gebruik”.
Miskien het Mevrou sonpanele op die dak, en ’n batterykamer in die spens.
Miskien verstaan Mevrou nie presies hóé gatvol ’n mens raak as die krane vir dae roggel nie. En wanneer donker werklik dónker is nie.
Want miskien is Mevrou eintlik soortvan okay.
GRAFIKA: Daniélle Schaafsma